Thursday, September 3, 2015

Week 7 se diep dink om persoonlik of in ‘n groep te doen:


Jesus se geheime tot geluk

Geheim 7:       Gelukkige vredemakers

“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”
(Matteus 5:9)             

Diep dink 1:        Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waterswaar daar vrede is.” (Psalm 23:2)  Maak dit spesifiek ‘n ernstige saak in jou lewe om by “die goeie Herder” van Psalm 23 vrede te soek én te vind.

Diep dink 2:        “Liewer ’n stukkie droë brood met vrede daarby as ’n huis vol kos met ’n getwis daarby.” (Spreuke 17:1) Moenie toelaat dat wêrelde dinge soos geld, jou vrede steel nie, dis nie die moeite werd nie.

Diep dink 3:        “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.” (Matteus 5:23-24) Maak baie seker dat versteurde verhoudings in jou lewe, nie jou geestelike verdieping blokkeer nie.

Diep dink 4:        “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” (Romeine 12:18) Net die Heilige Gees kan ons help om eers innerlike vrede en gemoedsrus te kry, maar dit is ook ‘n definitiewe wilsbesluit om in vrede met ALLE mense te lewe.

Diep dink 5:        “God het julle geroep om in vrede te lewe.” (1 Korintiërs 7:15) Regdeur die Bybel is “vrede” vir God belangrik, Hy bewerk dit en net Hy stel ons in staat om sy vrede uit te leef.

Diep dink 6:        “En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe.” (Kolossense 3:15) Ons belangrikste getuienis binne die kerk, is om vir die wêreld sonder Jesus te wys, dat ons in harmonie met mekaar lewe.

Diep dink 7:        Bid gereeld dat die Heilige Gees vir jou ware vrede na binne en na buite sal gee.

No comments:

Post a Comment