Thursday, August 27, 2015

Week 6 se diep dink om persoonlik of in ‘n groep te doen:

Jesus se geheime tot geluk              

Geheim 6:       Gelukkig met ‘n rein hart

“Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”

(Matteus 5:8)

Diep dink 1:        Lees Matteus 5: 3 tot 7 en oordink wat jy by jou vasgesteek het oor die eerste 5 geheime van Jesus tot geluk.

Diep dink 2:        Besluit vir jouself: hoe graag wil jy vir God sien? Of dalk, nie sien nie?

Diep dink 3:        Hoekom sal jy vir God wil sien soos Hy regtig volledig is? Uit nuuskierigheid, of om werklik sy volmaakte teenwoordigheid te ervaar?

Diep dink 4:        In die Bybel is die hart elke mens se innerlike, vanwaar jy self besluit wie jy is en hoe jy lewe. Hoe voel jy in jou “hart” oor jouself? Of hoe voel jy oor God?

Diep dink 5:        Bepeins die volgende volgorde:

Stap 1: met jou bekering het God se Gees in jou hart kom woon;

Stap 2: die Gees in jou is besig om jou lewe te reinig van jou eie-ek;

Stap 3: jy beleef ware geluk as resultaat van God se werk in jou; en

Stap 4: jy “sien” wie God in jou is.

Diep dink 6:        Neem ‘n vaste besluit oor hoe jy vir God meer plek in jou lewe kan maak.

Diep dink 7:        Bid vir ‘n rein hart wat volledig aan God oorgegee lewe.

Thursday, August 20, 2015

Week 5 se diep dink om persoonlik of in ‘n groep te doen:

Jesus se geheime tot geluk              

Geheim 5:       Gelukkig in ‘n barmhartige lewenswyse

“Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”

(Matteus 5:7)

Diep dink 1:        Lees Lukas 6: 32 tot 36. Wat hoor jy hier oor barmhartigheid?

Diep dink 2:        Lees Matteus 9: 35 tot 38. Wat hoor jy hier oor Jesus se hart?

Diep dink 3:        Lees Handelinge 20: 33 tot 36. Wat leer ons oor Paulus se barmhartigheid?

Diep dink 4:        Lees Jakobus 2: 14 tot 17. Wat hoor jy hier oor ‘n barmhartige lewenswyse?

Diep dink 5:        Lees Romeine 12: 9 tot 21. Só lyk ‘n Jesus-mens se lewe! Deurdink dit rustig.

Diep dink 6:        Lees Efesiërs 5: 1 en 2, en raak bewus van ons grootste motivering om anders te wil lewe.

Diep dink 7:        Bid om self so te lewe dat ander barmhartig teenoor jou optree.

Thursday, August 13, 2015

Week 4 se diep dink om persoonlik of in ‘n groep te doen:

Jesus se geheime tot geluk              

Geheim 4:       Gelukkig! Want jy honger en dors na wat reg is

“Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”

(Matteus 5:6)

 
Diep dink 1:        Dink na oor jou eie diepste hartsbegeerte, jou eie honger en dors? Dink aan woorde wat dit beskrywe, of gaan selfs sover om dit neer te skryf op papier.

Diep dink 2:        Wat dink jy is God se diepste honger en dors vir jou? Wat vra Hy regtig van jou? Eintlik het Hy NIKS van jou nodig nie en vra Hy ook NIKS van jou nie – Hy het dus nie ‘n honger en dors na jou toewyding en godsdienstigheid nie. Is dit vir jou goeie of slegte nuus? Raak stil oor hierdie gedagte.

Diep dink 3:        Bewustelik en onbewustelik, is elke Jesus-mens se diepste honger en dors na God self. Deur sy Gees is Hy die enigste Een wat ons innerlike leegheid kan volmaak met sy eie volheid. Soos Paulus bid in Efesiërs 3:19: “... mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.” Maak jou lewe leeg van “jouself” om plek te maak vir “Homself”.

Diep dink 4:        Hoe sien jy al die verkeerde en stukkende in hierdie wêreld vandag? Wat pla jou die meeste van alles wat verkeerd loop? Hoe dink jy voel die Here hieroor? Kan jy deur sy oë sien hoe stukkend die wêreld is en dan met ‘n dringendheid sy hande en voete wees om heelheid vir ander te beteken?

Diep dink 5:        Jesus-mense se diepste leegheid is na binne om God beter te ken. Met meer kennis en ervaring van God, word jy versadig. Dink op maniere wat vir jou werk om jou honger na God te versadig. Neem ‘n vaste besluit om met dissipline jou honger na God te versadig.

Diep dink 6:        Watter geleenthede sien jy raak waar jy die onreg van vandag self kan help regstel? Stop korrupsie deur eenvoudig self in alles eerlik te wees. Praat self die waarheid in alle omstandighede. Hou self by die reëls ter wille van ander se beste belange.

Diep dink 7:        Bid eenvoudig en gereeld: “Gee my asseblief ‘n hart en ‘n lewe vir wat reg is, Here.”

Thursday, August 6, 2015

Week 3 se diep dink om persoonlik of in ‘n groep te doen:

Jesus se geheime tot geluk               Geheim 3: Gelukkige sagmoediges

“Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.” (Matteus 5:5)

 

Diep dink 1:        Gee jou eie definisie vir die woord “sagmoedigheid”.

Diep dink 2:        “Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” (Matteus 11:28-31) Lees rustig en deurdink Jesus se eie woorde.

Diep dink 3:        Soos wat jy as Jesus-mens saam met Jesus treur oor die gebrokenheid en pyn in vandag se lewe (geheim 2 vir geluk), gaan jou oë oop vir ander se pyn en ander se foute. Die vraag is: watter emosie veroorsaak ander se pyn en foute in jou?

Diep dink 4:        Geheim 3 vir ware geluk, gaan nie oor jou eie behoefte om sag behandel te word nie, maar hoe jy met sagtheid en opregte teerheid ander mense met Jesus-liefde behandel. Hoe vorder die Gees met jou hierin?

Diep dink 5:        Coenie Burger skryf oor sagmoedigheid: “Mense wat na binne treur oor die lewe, is herkenbaar aan die feit dat hulle lewens na buite die stempel van sagmoedigheid, dit wil sê vriendelikheid en mildheid in omgang met ander, dra.” Dink na oor jou eie geneigdheid om na binne te lewe of om na buite te lewe.

Diep dink 6:        “Sagmoedigheid” is een van die vrugte van die Gees (Galasiërs 5:22). Dus is dit nie ‘n wet wat “moet” uitgevoer word nie, nee, die Heilige Gees is die enigste Bewerker hiervan. Bid opreg vir die Gees se werk in jou en my.

Diep dink 7:        “... want hulle sal die nuwe aarde ontvang.” Jesus-mense woon reeds simbolies op die nuwe aarde, dit is waar God deur sy Gees in beheer is van ons elkeen se lewe. Wees ingestel om daagliks meer bewus te raak van hierdie nuwe aarde waarop jy is.