Thursday, July 23, 2015

Jesus se geheime vir geluk 1


Die reeks bestaan uit agt (8) kleure van die reënboog as simbool van geluk. Hierdie agt (8) geheime het Jesus aangekondig tydens die bergpredikasie en staan algemeen bekend as die “saligsprekinge”:

Geheim 1:           Gelukkig in nederige afhanklikheid

Geheim 2:           Gelukkig as jy treur

Geheim 3:           Gelukkige sagmoediges

Geheim 4:           Gelukkig! Want jy honger en dors na wat reg is

Geheim 5:           Gelukkig in ‘n barmhartige leefwyse

Geheim 6:           Gelukkig met ‘n rein hart

Geheim 7:           Gelukkige vredemakers

Geheim 8:           Gelukkig om vervolg te word

Riglyne vir persoonlike en/of groepdeelname:

·         Ons gaan dit stadig en eenvoudig hanteer in die deelname aan die reeks, met die doel dat ALMAL dit kan volg en so deelneem aan die ontdekking van ware geluk.

·         Die riglyne sal soveel as moontlik afgewissel word, sodat elkeen se unieke geestelike behoeftes op een of ander wyse geakkommodeer word.

·         Moet asseblief nie moed verloor as jy nie tyd het om dit elke dag of elke week getrou te volg nie, maar neem asseblief ‘n besluit om moeite te doen om wel deel te neem aan die reeks.

·         Die bywoning van elke Sondag se boodskap oor Jesus se geheim vir geluk, is uiters belangrik – dit behoort jou minimum voorneme te wees.

·         Indien daar geleentheid gegee word om diep te dink tydens die reeks, hanteer dit as vrywillig en dat dit geen bedoeling het om enige persoon skuldig te laat voel wat nie daarby uitkom nie.

Week 1 se diep dink om persoonlik of in ‘n groep te doen:

Lees hierdie eerste week elke dag Matteus 5: 3 tot 12 aandagtig deur.

Diep dink 1:        Die Oordenking is vir elke geheim die samevattende verduideliking: lees dit aandagtig en met konsentrasie een of meer kere deur.

Diep dink 2:        Die woord “geseënd” of “gelukkig” kom van die Griekse woord “makarios”. In Engels word dit vertaal met “to be happy or blessed” en word in die Amplified Bible verduidelik met “to be envied and spiritually prosperous, with life joy and satisfaction in God’s favor and salvation, regardless of their outward conditions”. Dink persoonlik baie mooi hieroor na, of praat met mekaar hieroor in die groep.

Diep dink 3:        Wat sal moontlike verkeerde maniere wees waarop jy persoonlik (of ander mense) na geluk soek? Doen deeglike selfondersoek ... die keuse is SLEGS joune! Daar is ‘n klompie voorbeelde van valse geluk genoem in die Oordenking.

Diep dink 4:        Maak ‘n lysie op papier of in jou kop van “bewyse” dat jy reeds ontdek het dat jy NIE sonder God kan regkom nie. Hierdie lysie kan jou vir ‘n hele dag of week besig hou as jy ernstig is om ware geluk beter te ontdek.

Diep dink 5:        Oordink die rede waarom jy baie graag meer geseënd sou wou wees: hoofsaaklik vir jouself, of eerlik ter wille van ander? Die saligsprekinge begin en eindig by God, maar tussenin gaan dit oor ons daaglikse lewe en verhouding met ander mense. God se koninkryk het nou reeds alles te make met die realiteite van ons lewe op aarde. Hy weet dat daar dinge in ons lewens is wat ons laat treur, dat dit nie vir ons maklik is om sagmoedig op te tree nie en dat dit gevolge in ons mense verhouding het, dat daar dikwels onreg teenoor ons gepleeg word, dat mense soms so vals kan wees, dat daar soveel haat en twis in hierdie wêreld is. Jesus het al hierdie dinge eerstehands ervaar. In hierdie reeks gaan ons by Jesus die geheim leer hoe om hierdie uitdagings te kan hanteer.

Diep dink 6:        Verwoord jou eie ongelukkigheid (jou eie tekort aan geluk) eerlik in gebed ... jy kan dit gereeld doen, ons Here hoor jou graag. Een van ons lidmate beskryf Jesus se geheim as volg: “Geluk is ‘n gawe van God wat Hy in jou diepste binneste ingebou het, daar waar sy Gees deur jou beweeg.” Skryf jou eie definisie van ware geluk neer.

Diep dink 7:        Leer slegs een deeltjie van een Bybelversie uit jou kop uit: 1 Korintiërs 15: 28  se einde: “So sal God alles wees vir alles.” Dit vat saam om 100% van Hom afhanklik te wees!

No comments:

Post a Comment