Thursday, August 6, 2015

Week 3 se diep dink om persoonlik of in ‘n groep te doen:

Jesus se geheime tot geluk               Geheim 3: Gelukkige sagmoediges

“Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.” (Matteus 5:5)

 

Diep dink 1:        Gee jou eie definisie vir die woord “sagmoedigheid”.

Diep dink 2:        “Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” (Matteus 11:28-31) Lees rustig en deurdink Jesus se eie woorde.

Diep dink 3:        Soos wat jy as Jesus-mens saam met Jesus treur oor die gebrokenheid en pyn in vandag se lewe (geheim 2 vir geluk), gaan jou oë oop vir ander se pyn en ander se foute. Die vraag is: watter emosie veroorsaak ander se pyn en foute in jou?

Diep dink 4:        Geheim 3 vir ware geluk, gaan nie oor jou eie behoefte om sag behandel te word nie, maar hoe jy met sagtheid en opregte teerheid ander mense met Jesus-liefde behandel. Hoe vorder die Gees met jou hierin?

Diep dink 5:        Coenie Burger skryf oor sagmoedigheid: “Mense wat na binne treur oor die lewe, is herkenbaar aan die feit dat hulle lewens na buite die stempel van sagmoedigheid, dit wil sê vriendelikheid en mildheid in omgang met ander, dra.” Dink na oor jou eie geneigdheid om na binne te lewe of om na buite te lewe.

Diep dink 6:        “Sagmoedigheid” is een van die vrugte van die Gees (Galasiërs 5:22). Dus is dit nie ‘n wet wat “moet” uitgevoer word nie, nee, die Heilige Gees is die enigste Bewerker hiervan. Bid opreg vir die Gees se werk in jou en my.

Diep dink 7:        “... want hulle sal die nuwe aarde ontvang.” Jesus-mense woon reeds simbolies op die nuwe aarde, dit is waar God deur sy Gees in beheer is van ons elkeen se lewe. Wees ingestel om daagliks meer bewus te raak van hierdie nuwe aarde waarop jy is.

No comments:

Post a Comment