Thursday, August 13, 2015

Week 4 se diep dink om persoonlik of in ‘n groep te doen:

Jesus se geheime tot geluk              

Geheim 4:       Gelukkig! Want jy honger en dors na wat reg is

“Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”

(Matteus 5:6)

 
Diep dink 1:        Dink na oor jou eie diepste hartsbegeerte, jou eie honger en dors? Dink aan woorde wat dit beskrywe, of gaan selfs sover om dit neer te skryf op papier.

Diep dink 2:        Wat dink jy is God se diepste honger en dors vir jou? Wat vra Hy regtig van jou? Eintlik het Hy NIKS van jou nodig nie en vra Hy ook NIKS van jou nie – Hy het dus nie ‘n honger en dors na jou toewyding en godsdienstigheid nie. Is dit vir jou goeie of slegte nuus? Raak stil oor hierdie gedagte.

Diep dink 3:        Bewustelik en onbewustelik, is elke Jesus-mens se diepste honger en dors na God self. Deur sy Gees is Hy die enigste Een wat ons innerlike leegheid kan volmaak met sy eie volheid. Soos Paulus bid in Efesiërs 3:19: “... mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.” Maak jou lewe leeg van “jouself” om plek te maak vir “Homself”.

Diep dink 4:        Hoe sien jy al die verkeerde en stukkende in hierdie wêreld vandag? Wat pla jou die meeste van alles wat verkeerd loop? Hoe dink jy voel die Here hieroor? Kan jy deur sy oë sien hoe stukkend die wêreld is en dan met ‘n dringendheid sy hande en voete wees om heelheid vir ander te beteken?

Diep dink 5:        Jesus-mense se diepste leegheid is na binne om God beter te ken. Met meer kennis en ervaring van God, word jy versadig. Dink op maniere wat vir jou werk om jou honger na God te versadig. Neem ‘n vaste besluit om met dissipline jou honger na God te versadig.

Diep dink 6:        Watter geleenthede sien jy raak waar jy die onreg van vandag self kan help regstel? Stop korrupsie deur eenvoudig self in alles eerlik te wees. Praat self die waarheid in alle omstandighede. Hou self by die reëls ter wille van ander se beste belange.

Diep dink 7:        Bid eenvoudig en gereeld: “Gee my asseblief ‘n hart en ‘n lewe vir wat reg is, Here.”

No comments:

Post a Comment