Thursday, September 10, 2015

Week 8 se diep dink om persoonlik of in ‘n groep te doen:


Jesus se geheime tot geluk

Geheim 8:       Gelukkig om vervolg te word

“Geseënd is dié wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
(Matteus 5:10)           

Diep dink 1:        Is jy al ooit in enige opsig benadeel (vervolg) omdat jy ‘n Christen is? Dink na oor die nadele en voordele van regte vervolging van Christene.

Diep dink 2:        Wat laat jou tuis voel in hierdie aardse lewe? Wat laat jou soos ‘n vreemdeling voel hier op aarde? Maak lysies as jy wil van elkeen.

Diep dink 3:        Dink na aan die reeks oor Jesus se geheime tot geluk, watter vreemde waarhede oor geluk het na vore gekom?

Diep dink 4:        Deurdink die volgende gevolge vir elke Jesus-mens:

·         jou “eie ek” sterf om te kan lewe

·         jy gee om te kan ontvang

·         jy verloor om te kan wen

Diep dink 5:        Wat maak jou moedeloos? Waaroor bekommer jy jou die meeste? Wie maak jou gespanne? Binne die koninkryk van die hemel, wil God nou reeds deur sy Gees in jou, al hierdie “vervolging” wegneem – vra sy hulp gedurig.

Diep dink 6:        Teken nou reeds vir jou ‘n prentjie in jou gedagtes oor hoe dit vir jou in die hemel by God gaan wees. Sien met positiewe opgewondenheid uit daarna.

Diep dink 7:        Wees elke dag meer bewus dat God jou enigste ware geluk wil en kan wees!

Thursday, September 3, 2015

Week 7 se diep dink om persoonlik of in ‘n groep te doen:


Jesus se geheime tot geluk

Geheim 7:       Gelukkige vredemakers

“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”
(Matteus 5:9)             

Diep dink 1:        Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waterswaar daar vrede is.” (Psalm 23:2)  Maak dit spesifiek ‘n ernstige saak in jou lewe om by “die goeie Herder” van Psalm 23 vrede te soek én te vind.

Diep dink 2:        “Liewer ’n stukkie droë brood met vrede daarby as ’n huis vol kos met ’n getwis daarby.” (Spreuke 17:1) Moenie toelaat dat wêrelde dinge soos geld, jou vrede steel nie, dis nie die moeite werd nie.

Diep dink 3:        “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou daar byval dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.” (Matteus 5:23-24) Maak baie seker dat versteurde verhoudings in jou lewe, nie jou geestelike verdieping blokkeer nie.

Diep dink 4:        “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” (Romeine 12:18) Net die Heilige Gees kan ons help om eers innerlike vrede en gemoedsrus te kry, maar dit is ook ‘n definitiewe wilsbesluit om in vrede met ALLE mense te lewe.

Diep dink 5:        “God het julle geroep om in vrede te lewe.” (1 Korintiërs 7:15) Regdeur die Bybel is “vrede” vir God belangrik, Hy bewerk dit en net Hy stel ons in staat om sy vrede uit te leef.

Diep dink 6:        “En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe.” (Kolossense 3:15) Ons belangrikste getuienis binne die kerk, is om vir die wêreld sonder Jesus te wys, dat ons in harmonie met mekaar lewe.

Diep dink 7:        Bid gereeld dat die Heilige Gees vir jou ware vrede na binne en na buite sal gee.

Thursday, August 27, 2015

Week 6 se diep dink om persoonlik of in ‘n groep te doen:

Jesus se geheime tot geluk              

Geheim 6:       Gelukkig met ‘n rein hart

“Geseënd is dié wat rein van hart is, want hulle sal God sien.”

(Matteus 5:8)

Diep dink 1:        Lees Matteus 5: 3 tot 7 en oordink wat jy by jou vasgesteek het oor die eerste 5 geheime van Jesus tot geluk.

Diep dink 2:        Besluit vir jouself: hoe graag wil jy vir God sien? Of dalk, nie sien nie?

Diep dink 3:        Hoekom sal jy vir God wil sien soos Hy regtig volledig is? Uit nuuskierigheid, of om werklik sy volmaakte teenwoordigheid te ervaar?

Diep dink 4:        In die Bybel is die hart elke mens se innerlike, vanwaar jy self besluit wie jy is en hoe jy lewe. Hoe voel jy in jou “hart” oor jouself? Of hoe voel jy oor God?

Diep dink 5:        Bepeins die volgende volgorde:

Stap 1: met jou bekering het God se Gees in jou hart kom woon;

Stap 2: die Gees in jou is besig om jou lewe te reinig van jou eie-ek;

Stap 3: jy beleef ware geluk as resultaat van God se werk in jou; en

Stap 4: jy “sien” wie God in jou is.

Diep dink 6:        Neem ‘n vaste besluit oor hoe jy vir God meer plek in jou lewe kan maak.

Diep dink 7:        Bid vir ‘n rein hart wat volledig aan God oorgegee lewe.

Thursday, August 20, 2015

Week 5 se diep dink om persoonlik of in ‘n groep te doen:

Jesus se geheime tot geluk              

Geheim 5:       Gelukkig in ‘n barmhartige lewenswyse

“Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”

(Matteus 5:7)

Diep dink 1:        Lees Lukas 6: 32 tot 36. Wat hoor jy hier oor barmhartigheid?

Diep dink 2:        Lees Matteus 9: 35 tot 38. Wat hoor jy hier oor Jesus se hart?

Diep dink 3:        Lees Handelinge 20: 33 tot 36. Wat leer ons oor Paulus se barmhartigheid?

Diep dink 4:        Lees Jakobus 2: 14 tot 17. Wat hoor jy hier oor ‘n barmhartige lewenswyse?

Diep dink 5:        Lees Romeine 12: 9 tot 21. Só lyk ‘n Jesus-mens se lewe! Deurdink dit rustig.

Diep dink 6:        Lees Efesiërs 5: 1 en 2, en raak bewus van ons grootste motivering om anders te wil lewe.

Diep dink 7:        Bid om self so te lewe dat ander barmhartig teenoor jou optree.

Thursday, August 13, 2015

Week 4 se diep dink om persoonlik of in ‘n groep te doen:

Jesus se geheime tot geluk              

Geheim 4:       Gelukkig! Want jy honger en dors na wat reg is

“Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”

(Matteus 5:6)

 
Diep dink 1:        Dink na oor jou eie diepste hartsbegeerte, jou eie honger en dors? Dink aan woorde wat dit beskrywe, of gaan selfs sover om dit neer te skryf op papier.

Diep dink 2:        Wat dink jy is God se diepste honger en dors vir jou? Wat vra Hy regtig van jou? Eintlik het Hy NIKS van jou nodig nie en vra Hy ook NIKS van jou nie – Hy het dus nie ‘n honger en dors na jou toewyding en godsdienstigheid nie. Is dit vir jou goeie of slegte nuus? Raak stil oor hierdie gedagte.

Diep dink 3:        Bewustelik en onbewustelik, is elke Jesus-mens se diepste honger en dors na God self. Deur sy Gees is Hy die enigste Een wat ons innerlike leegheid kan volmaak met sy eie volheid. Soos Paulus bid in Efesiërs 3:19: “... mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.” Maak jou lewe leeg van “jouself” om plek te maak vir “Homself”.

Diep dink 4:        Hoe sien jy al die verkeerde en stukkende in hierdie wêreld vandag? Wat pla jou die meeste van alles wat verkeerd loop? Hoe dink jy voel die Here hieroor? Kan jy deur sy oë sien hoe stukkend die wêreld is en dan met ‘n dringendheid sy hande en voete wees om heelheid vir ander te beteken?

Diep dink 5:        Jesus-mense se diepste leegheid is na binne om God beter te ken. Met meer kennis en ervaring van God, word jy versadig. Dink op maniere wat vir jou werk om jou honger na God te versadig. Neem ‘n vaste besluit om met dissipline jou honger na God te versadig.

Diep dink 6:        Watter geleenthede sien jy raak waar jy die onreg van vandag self kan help regstel? Stop korrupsie deur eenvoudig self in alles eerlik te wees. Praat self die waarheid in alle omstandighede. Hou self by die reëls ter wille van ander se beste belange.

Diep dink 7:        Bid eenvoudig en gereeld: “Gee my asseblief ‘n hart en ‘n lewe vir wat reg is, Here.”

Thursday, August 6, 2015

Week 3 se diep dink om persoonlik of in ‘n groep te doen:

Jesus se geheime tot geluk               Geheim 3: Gelukkige sagmoediges

“Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde ontvang.” (Matteus 5:5)

 

Diep dink 1:        Gee jou eie definisie vir die woord “sagmoedigheid”.

Diep dink 2:        “Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig.” (Matteus 11:28-31) Lees rustig en deurdink Jesus se eie woorde.

Diep dink 3:        Soos wat jy as Jesus-mens saam met Jesus treur oor die gebrokenheid en pyn in vandag se lewe (geheim 2 vir geluk), gaan jou oë oop vir ander se pyn en ander se foute. Die vraag is: watter emosie veroorsaak ander se pyn en foute in jou?

Diep dink 4:        Geheim 3 vir ware geluk, gaan nie oor jou eie behoefte om sag behandel te word nie, maar hoe jy met sagtheid en opregte teerheid ander mense met Jesus-liefde behandel. Hoe vorder die Gees met jou hierin?

Diep dink 5:        Coenie Burger skryf oor sagmoedigheid: “Mense wat na binne treur oor die lewe, is herkenbaar aan die feit dat hulle lewens na buite die stempel van sagmoedigheid, dit wil sê vriendelikheid en mildheid in omgang met ander, dra.” Dink na oor jou eie geneigdheid om na binne te lewe of om na buite te lewe.

Diep dink 6:        “Sagmoedigheid” is een van die vrugte van die Gees (Galasiërs 5:22). Dus is dit nie ‘n wet wat “moet” uitgevoer word nie, nee, die Heilige Gees is die enigste Bewerker hiervan. Bid opreg vir die Gees se werk in jou en my.

Diep dink 7:        “... want hulle sal die nuwe aarde ontvang.” Jesus-mense woon reeds simbolies op die nuwe aarde, dit is waar God deur sy Gees in beheer is van ons elkeen se lewe. Wees ingestel om daagliks meer bewus te raak van hierdie nuwe aarde waarop jy is.

Friday, July 31, 2015

Week 2 se diep dink om persoonlik of in ‘n groep te doen:


Jesus se geheime tot geluk               Geheim 2: Gelukkig as jy treur

“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” (Matteus 5: 4)

 

Diep dink 1:        1 Korintiërs 15: 28  eindig met die woorde: “So sal God alles wees vir alles.” Dit is die fondament om 100% van Hom afhanklik te wees en ware geluk in Hom ALLEEN te vind. Oordink hierdie waarheid as rigting van groei vir elke Jesus-mens.

Diep dink 2:        Die Oordenking is die samevattende verduideliking vir geheim 2. Lees elke sin en kyk of jy daarmee saamstem?

Diep dink 3:        Dink aan ‘n rede of redes waarom jy op hierdie oomblik van jou lewe sal treur, of hartseer is. Dink of gesels oor die werklikheid dat sekere ervarings van seerkry nooit heeltemal uit mens se lewe weggaan nie. Hierdie is dan ook die rede waarom geheim 2 vir geluk nie werklik te doen het met ons hartseer in ons daaglikse omstandighede nie, dis die werklikheid wat ons net MOET hanteer.

Diep dink 4:        Dink of praat oor die stelling: ons het elkeen rede om te treur oor ons traagheid om alles in ons vermoë te doen om geestelik te verdiep.

Diep dink 5:        Elkeen wat met ‘n Jesus-hart lewe, treur saam met Hom oor die stukkende wêreld waarin ons is. Dink aan voorbeelde van hoe gebroke en verlore die wêreld is.

Diep dink 6:        Wat kan jy prakties doen om die troos wat God alleen bied, vir ander ‘n groter werklikheid te maak?

Diep dink 7:        Lees 2 Korintiërs 7: 2 tot 16, bekend as Paulus se sogenaamde “trane-brief”.