Friday, July 31, 2015

Week 2 se diep dink om persoonlik of in ‘n groep te doen:


Jesus se geheime tot geluk               Geheim 2: Gelukkig as jy treur

“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.” (Matteus 5: 4)

 

Diep dink 1:        1 Korintiërs 15: 28  eindig met die woorde: “So sal God alles wees vir alles.” Dit is die fondament om 100% van Hom afhanklik te wees en ware geluk in Hom ALLEEN te vind. Oordink hierdie waarheid as rigting van groei vir elke Jesus-mens.

Diep dink 2:        Die Oordenking is die samevattende verduideliking vir geheim 2. Lees elke sin en kyk of jy daarmee saamstem?

Diep dink 3:        Dink aan ‘n rede of redes waarom jy op hierdie oomblik van jou lewe sal treur, of hartseer is. Dink of gesels oor die werklikheid dat sekere ervarings van seerkry nooit heeltemal uit mens se lewe weggaan nie. Hierdie is dan ook die rede waarom geheim 2 vir geluk nie werklik te doen het met ons hartseer in ons daaglikse omstandighede nie, dis die werklikheid wat ons net MOET hanteer.

Diep dink 4:        Dink of praat oor die stelling: ons het elkeen rede om te treur oor ons traagheid om alles in ons vermoë te doen om geestelik te verdiep.

Diep dink 5:        Elkeen wat met ‘n Jesus-hart lewe, treur saam met Hom oor die stukkende wêreld waarin ons is. Dink aan voorbeelde van hoe gebroke en verlore die wêreld is.

Diep dink 6:        Wat kan jy prakties doen om die troos wat God alleen bied, vir ander ‘n groter werklikheid te maak?

Diep dink 7:        Lees 2 Korintiërs 7: 2 tot 16, bekend as Paulus se sogenaamde “trane-brief”.

Thursday, July 23, 2015

Jesus se geheime vir geluk 1


Die reeks bestaan uit agt (8) kleure van die reënboog as simbool van geluk. Hierdie agt (8) geheime het Jesus aangekondig tydens die bergpredikasie en staan algemeen bekend as die “saligsprekinge”:

Geheim 1:           Gelukkig in nederige afhanklikheid

Geheim 2:           Gelukkig as jy treur

Geheim 3:           Gelukkige sagmoediges

Geheim 4:           Gelukkig! Want jy honger en dors na wat reg is

Geheim 5:           Gelukkig in ‘n barmhartige leefwyse

Geheim 6:           Gelukkig met ‘n rein hart

Geheim 7:           Gelukkige vredemakers

Geheim 8:           Gelukkig om vervolg te word

Riglyne vir persoonlike en/of groepdeelname:

·         Ons gaan dit stadig en eenvoudig hanteer in die deelname aan die reeks, met die doel dat ALMAL dit kan volg en so deelneem aan die ontdekking van ware geluk.

·         Die riglyne sal soveel as moontlik afgewissel word, sodat elkeen se unieke geestelike behoeftes op een of ander wyse geakkommodeer word.

·         Moet asseblief nie moed verloor as jy nie tyd het om dit elke dag of elke week getrou te volg nie, maar neem asseblief ‘n besluit om moeite te doen om wel deel te neem aan die reeks.

·         Die bywoning van elke Sondag se boodskap oor Jesus se geheim vir geluk, is uiters belangrik – dit behoort jou minimum voorneme te wees.

·         Indien daar geleentheid gegee word om diep te dink tydens die reeks, hanteer dit as vrywillig en dat dit geen bedoeling het om enige persoon skuldig te laat voel wat nie daarby uitkom nie.

Week 1 se diep dink om persoonlik of in ‘n groep te doen:

Lees hierdie eerste week elke dag Matteus 5: 3 tot 12 aandagtig deur.

Diep dink 1:        Die Oordenking is vir elke geheim die samevattende verduideliking: lees dit aandagtig en met konsentrasie een of meer kere deur.

Diep dink 2:        Die woord “geseënd” of “gelukkig” kom van die Griekse woord “makarios”. In Engels word dit vertaal met “to be happy or blessed” en word in die Amplified Bible verduidelik met “to be envied and spiritually prosperous, with life joy and satisfaction in God’s favor and salvation, regardless of their outward conditions”. Dink persoonlik baie mooi hieroor na, of praat met mekaar hieroor in die groep.

Diep dink 3:        Wat sal moontlike verkeerde maniere wees waarop jy persoonlik (of ander mense) na geluk soek? Doen deeglike selfondersoek ... die keuse is SLEGS joune! Daar is ‘n klompie voorbeelde van valse geluk genoem in die Oordenking.

Diep dink 4:        Maak ‘n lysie op papier of in jou kop van “bewyse” dat jy reeds ontdek het dat jy NIE sonder God kan regkom nie. Hierdie lysie kan jou vir ‘n hele dag of week besig hou as jy ernstig is om ware geluk beter te ontdek.

Diep dink 5:        Oordink die rede waarom jy baie graag meer geseënd sou wou wees: hoofsaaklik vir jouself, of eerlik ter wille van ander? Die saligsprekinge begin en eindig by God, maar tussenin gaan dit oor ons daaglikse lewe en verhouding met ander mense. God se koninkryk het nou reeds alles te make met die realiteite van ons lewe op aarde. Hy weet dat daar dinge in ons lewens is wat ons laat treur, dat dit nie vir ons maklik is om sagmoedig op te tree nie en dat dit gevolge in ons mense verhouding het, dat daar dikwels onreg teenoor ons gepleeg word, dat mense soms so vals kan wees, dat daar soveel haat en twis in hierdie wêreld is. Jesus het al hierdie dinge eerstehands ervaar. In hierdie reeks gaan ons by Jesus die geheim leer hoe om hierdie uitdagings te kan hanteer.

Diep dink 6:        Verwoord jou eie ongelukkigheid (jou eie tekort aan geluk) eerlik in gebed ... jy kan dit gereeld doen, ons Here hoor jou graag. Een van ons lidmate beskryf Jesus se geheim as volg: “Geluk is ‘n gawe van God wat Hy in jou diepste binneste ingebou het, daar waar sy Gees deur jou beweeg.” Skryf jou eie definisie van ware geluk neer.

Diep dink 7:        Leer slegs een deeltjie van een Bybelversie uit jou kop uit: 1 Korintiërs 15: 28  se einde: “So sal God alles wees vir alles.” Dit vat saam om 100% van Hom afhanklik te wees!

Wednesday, March 12, 2014

Deo-Diep-Dink: Week 16 tot 22 Maart 2014


Deurdink die tema “Die Godstad: inwoners gemerk vir altyd ” aan die hand van die volgende gedagtes:

1.       “Hulle sal Hom sien ...” (Openbaring 22:4a)

2.       “... sy Naam sal op hulle voorkoppe wees.” (Openbaring 22:4b)

3.       “Elkeen wat die oorwinning behaal ... Ek sal my eie nuwe Naam op hom skrywe.” (Openbaring 3:12)

4.       Jy is gemerk in jou ewige tuiste.

5.       Ons as gemerktes herken mekaar en hoort bymekaar.

6.       Gebed:                 Dankie Volmaakte in my dat U my vervolmaak!

Wednesday, March 5, 2014

Deo-Diep-Dink: Week 9 tot 15 Maart 2014


Deurdink die tema “Die Godstad: waar Hy alles gee en oor alles tevrede is ” aan die hand van die volgende gedagtes:

1.       “... die boom van die lewe. Hy dra twaalf keer per jaar vrugte ...” (Openbaring 22:2)

2.       Watter vrugte (of dan kos as jy nie van vrugte hou nie) sal jy die hele jaar wil eet?

3.       Wat is jou grootste honger of siekte in jou geestelike lewe?

4.       “Die blare van die boom bring genesing vir die nasies.” (Openbaring 22:2)

5.       “Daar sal nie ‘n enkele ding oorbly waarmee God ontevrede is nie.” (Die Boodskap)

6.       Gebed:                 Oorvloed-Gewer, so opreg waardering dat U tevrede is met my!

Wednesday, February 26, 2014

Deo-Diep-Dink: Week 2 tot 8 Maart 2014

Deurdink die tema “Die Godstad: gratis oorvloed lewe ” aan die hand van die volgende gedagtes:

1.       “... water van die lewe ...” (Openbaring 22:1)

2.       “... elkeen wat dors het ... moet dit kom kry, verniet!” (Openbaring 22:17)

3.       “Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. ... na die Gees verwys.” (Johannes 7:38-39)

4.       “... dit stroom uit die troon van God en van die Lam uit.” (Openbaring 22:1)

5.       Dit is die maklikste en allerbeste om ‘n inwoner van die Godstad te wees!

6.       Gebed:                                 1000 dankies, Oorvloed-gewer, vir die verniet-lewe!

Wednesday, February 12, 2014

Week 16 tot 22 Februarie 2014


Deurdink die tema “Die Godstad: gevul met dié Lig en dié Skat ” aan die hand van die volgende gedagtes:

1.       Die stad se “... tempel is die Here God, die Almagtige, en die Lam.” (Openbaring 21:22)

2.       ‘n Beskrywing vir “heerlikheid” is goddelike grootheid.

3.       God se volmaakte teenwoordigheid vul die hele stad.

4.       Geen kragonderbrekings nie want dit is nooit nag in die stad nie.

5.       Oorlog buite die stad maak plek vir aanbidding binne die stad.

6.       Gebed: Enigste Lig in my lewe, dankie dat gereinigde ek U in alles kan aanbid.

Wednesday, February 5, 2014

Deo-Diep-Dink: Week 10 tot 15 Februarie 2014


Deurdink die tema “Die Godstad: suiwer, mooi en stewig” aan die hand van die volgende gedagtes:

1.       “... die woonplek van God is nou by die mense ...” (Openbaring 21:3)

2.       Die bloed van die Lam suiwer en reinig elke inwoner van die Godstad.

3.       Die mooi van elke Jesus-mens kan slegs in God self raakgesien word.

4.       Die edelstene waarmee die fondamente van die Godstad gebou is, beteken wat?

5.       Hoekom sou jy dalk uitsien om op die goue strate te wandel?

6.       Dink aan die fondamente van jou lewe ...

7.       Gebed: Herbouer van my lewe, bou asseblief op die heel beste fondament ter wille van Uself.